Adam Tas nie meer in die duister nie

Adam Tas, die studentevereniging wat hulle op die behoud van Afrikaans as onderrigmedium toespits, gaan vanjaar hul aanslag en hul beeld verander. Hulle wil die vereniging meer inklusief maak deur te fokus op sosiale geleenthede in Afrikaans.

Hierdie verandering kom nadat die vereniging besef het dat daar ’n wanpersepsie bestaan oor hul motiewe. “Ek het dit veral nou weer gesien by die societies fair wat in die Neelsie was – so baie van die bruin en swart Afrikaans-sprekende studente huiwer om by ons aan te sluit, omdat hulle dink dat hierdie vereniging slegs vir blanke Afrikaans-sprekendes is,” sê Christof Odendal, voorsitter van Adam Tas.

“Voordat jy onder jong mense enige konstruktiewe gesprekke kan hê oor die rol wat ons taal speel, moet jy hulle eers kry om gemaklik te wees met ons taal.

“Om die behoud van Afrikaans te verseker, moet mens juis alle Afrikaans-sprekendes aantrek en van hierdie stigmas ontslae raak. Daar word geglo dat mense wat pro-Afrikaans is, teen verandering is, en dis glad nie die geval nie.

“Dis waar ons slagspreuk ‘Transformasie mét Afrikaans’ dit so goed vir my saamvat.

“Ons probeer dié jaar om Afrikaans te bevorder deur sosiale funksies te hou wat oop is vir almal om stigmas rondom die taal af te breek,” sê Odendal. “Ons is lief vir ons taal en ons glo dat die behoud daarvan juis daarin lê om vernuwend te dink daaroor.”

Die eerste van hierdie geleenthede is die Adam Tas Rock Show wat hierdie Woensdag die 19de Februarie by die Klein Libertas Teater plaasvind. Lede betaal R30 en nie-lede betaal R50 by die deur om saam met Valiant Swart, Die Skynmaagde, Mr Cat and the Jackal en The Wheel Again te rock.

Vanjaar pak hulle ook ’n liefdadigheidsprojek vir die Laerskool Daniel le Roux in Grabouw aan. Hulle doen ’n beroep op almal wat rock show toe kom om  skoolklere, speelgoed, skryfbehooeftes en tandepasta saam te bring om aan die skool te skenk.

Daar is iets vir almal vanjaar by die vereniging se sosiale geleenthede, van ’n Afrikaanse fliekweek en wyn- en digkunsaande tot ’n kritiese denke kompetisie saam met Bonfiire en die Frederik van Zyl Slabbert-Leierskapsinstituut. Vir laasgenoemde kan studente blogs skryf oor “die rol van koshuise in ’n multi-kulturele en veeltalige universiteit.”

Wayde Groep, die SR-lid vir Kritiese Interaksie op kampus, meen dat hierdie besluit “beslis ander studente, veral tweedetaal Afrikaans-sprekendes, sal aanmoedig om by die vereniging aan te sluit.

“Ek sien uit na die positiewe resultate van hierdie vernuwende manier van dink.”

Adam Tas het as ‘n aktivistiese organisasie ontstaan in 2007 toe Stellenbosch Universiteit die T-opsie vir tweetalige onderrig begin infasseer het, omdat hulle geglo het dat hierdie opsie afbreek doen aan Afrikaans as onderrigmedium.

(463 Woorde)

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s